Winterballade
’n
hooglied
Ek
soek na jou tussen winterboomskelette daar waar kuifreiers roep
Waar het my alombeminde heengegaan die hoeksteen van my hart?

sien jou skim in koue kuile water wat glas maak in die wintermaan
Ek sing vir jou ’n roeplied uit ’n boek met asbloublaaie

My
sielsbeminde het by my poort verbygeloop na ’n koue wintertuin
op soek na die eerste bloedpruimbotsels, verslete maankalfjas oor sy skouers

Om
die helder hoof hang ’n mirtekrans, bekroon met balroosblomme wat
jubel in die westewind
Daar sing ’n koor van mossie, vink en tortel

Jy
is my spuwende fontein vol sagte wateranemone, ’n grag van lewende
water wat uit ’n doopvont vloei
Jou lippe is die lotusblom wat oopskulp in gesang

In
my gekweste hande roer my bidsnoer stil wyl ek bedelsmeek om groot
genade,
dat jy terugkom uit die donker wintertuin

Draai
terug o beminde, dan berei ek vir jou festyn van liefdesvreugde
’n Tafel vol silwer skottels sedersade, viskuite uit die weskusdieptes en ’n raapkoek uit die toringstad

As
jy my hart teen sterlig hou sal jy die watermerke sien,
jou naam staan daar duidelik in nege goudbladletters opgeskryf

geliefde is ’n ysterhek wat deur ’n duisend hamerhale op die
aambeeld uitgetemper is
Die kuras wat die hart behoed is in patrone ryk versilwer en met ’n toorwoord uitgraveer

jou hande word ek ’n trompie wat vir jou vingers ghommaliedjies
speel
Jou voete wil ek lawe met koel kalbasmelk en die gegeurde olie van ’n bokbaaivygie

Jou
oë is topaas salmanders wat kamma koggel in die skemer,
jou mond is ’n purper gulpvy wat oopbars net vir my

No comments:
Post a Comment